Tuesday, November 13, 2018

Dit sal jou leer...

Hier sit ek vanoggend weer en dink aan hoe ek my eie lewe ongemaklik maak. Daar is niemand, behalwe myself, te blameer vir hoe dit nou met my gaan nie. Wanneer jy sukkel of swaarkry, is dit mos altyd iemand anders se skuld. Nie hierdie keer nie. As ek nie so hardegat was nie, nie so ongeduldig was nie en dalk harder probeer het, kon dinge heel moontlik beter gegaan het. My hart is baie seer vanoggend. Trane wil-wil die grens oorskry en teen my wange af rol. Alles my eie skuld. Ek verwag te veel van ander wat nie naastenby soveel hartseer en swaarkry soos ek verduur het as kind nie. Hulle moet maar net uithou-aanhou-moedhou-bekhou soos wat ek geleer is vandat ek kan onthou. Daar was nie tyd vir in 'n hoek gaan sit en jou wonde lek nie. Staan op, rol op jou moue en baklei verder. Eendag, eendag... Dit het altyd in jou gedagtes rondgeskarrel. Eendag sal dit beter gaan. Eendag sal jy ook 'n makliker lewe hê en nie nodig hê om voor sonop te gaan werk en na sononder tuis te kom nie. Jy sal nie nodig hê om jouself simpel te werk, net om te gaan slaap en dit die volgende dag maar net weer van voor af te doen nie. Jy sal ook soos ander mense op vakansie kan gaan. Jy sal ook kan voel hoe dit voel om vir langer as 'n Sondag namiddag nie te werk nie. Jy sal ook kan gaan biltong koop net wanneer jy so voel. Jy sal ook die wêreld kan verken met net 'n rugsak wat jou terughou. Ongelukkig het ander mense nie dieselfde swaarkry as sommige van ons geken nie. Gelukkig vir hulle. Deur ondervinding kan ek vandag met 'n geruste hart sê dat die oumense nie verkeerd was nie. Hou jou by jou soort. As jy arm is, kry vir jou 'n meisie uit 'n arm gemeenskap. Jou mense. As die ander een nie dieselfde grootgemaak is as jy nie, gaan dit nie werk nie. Sy verstaan nie van werk nie, of sy verstaan nie van sukkel nie. Of beide. Hulle verstaan nie dat jy met geloof opstaan in die oggend nie. Hulle verstaan nie dat jy leef op die hoop dat dit die volgende dag dalk beter sal gaan nie. Hulle verwag dat dinge oornag sal verbeter. Dit is juis sulke verwagtinge wat maak dat dinge nie gaan uitwerk nie. Sy gaan moed opgee. Sy gaan haar tassie pak en jou agterlaat om 'n beter lewe te gaan soek iewers anders. Gewoonlik kry hulle dit ook. Gelukkig vir hulle. Solank jy leer uit die verhouding, sal dit dalk beter kan gaan in die toekoms. Moet net nie weer iemand kry wat jy moet moed inpraat heeldag nie. Dit is uitputtend. Dit is iets wat jy kon baas raak voordat jy kon praat. Jy moes maar net verstaan dat almal besig is. Aandag kry is soos jou verjaarsdag. Dit kom net een keer 'n jaar verby. Sou jy val en seerkry, is vir jou gesê dat die tweede wêreld oorlog erger was. Daar het mense doodgegaan. Hou op huil, tel op jou gereedskap en werk verder. Dit is juis daar waar dinge verkeerd loop. Ander mense, Engels sprekende Suid-Afrikaners, om maar net 'n voorbeeld te gee, verstaan nie wat dit is om in hierdie genadelose Afrika son te werk tot jou kop sing van uitputting nie. Oor die algemeen het hulle nie groot geword met die werk nie. Hulle hou van werk uitdeel. Die Boertjies onder ons, kon met 'n graaf werk voordat jy kon fiets ry. Daar was nie tyd vir sit en boeke lees nie, tensy jou ouers ryk was en julle arbeiders gehad het om die werk te doen. Die res van ons moes werk. Jy kon uitsien na wanneer die skool begin, want dan kon jy ook halfdag rus kry. Naweke en vakansies het jy gewerk dat die bloed loop. Om terug te kom by my storie, moet ek seker bietjie uitbrei oor wat aangaan. My lewe het seker finaal in 'n rigting gefoeter, die dag wat die kinders se mamma haar goedjies gepak en uit ons lewe geloop het. Solank ek leef sal dit seker by my spook. Dit was my skuld. Jare se eise stel wat ek weet sy nie in staat was om te kan voldoen nie. Visse se bedrewenheid om te kan swem, help hulle niks om boom te klim nie. Ek was die oorsaak van haar hartseer. Die spreekwoord: "As jy iets of iemand lief het, laat hulle vry. Indien hulle terugkom, is dit joune. Indien nie, was dit ook nooit joune nie." sê meer as wat dit op eerste oogopslag lyk. Vandag moes ek finaal laat gaan. Meer as twee jaar nadat sy hier weg is. Sy het iemand wat haar gelukkig maak. Iemand wat dink soos sy. 'n Engelsman. Hopelik is sy gelukkig. Hopelik kan hy haar gee wat jare saam met my nie kon nie. Sommige van ons verwag dalk te veel, al kry jy nie noodwendig iets nie. Sommige van ons se maatjies is dalk dood in 'n landmyn ontploffing waar hulle agter op 'n bakkie gery het op 15 Desember 1985 op 'n plaas by Messina...